Die plaas

Pierneef, "Plaas naby Derdepoort"
Beeldbron: Litnet
Ek wou 'n skrywe geskryf het oor my verlange na die plaas vandag, maar toe onthou ek dat ek reeds so 'n skrywe gemaak het sowat twee jaar gelede. As ek vandag die skrywe sou skryf, sou dit basies 'n woordelikse herhaling gewees het van wat ek toe geskryf het: Ek verlang na die plaas. Die plaas bestaan nie meer nie. Daar is dus geen lafenis aan my verlange nie.

In die verlede, nadat ons plaas onteien is, het ek darem weekliks 'n draai by een van my vriende wat ook toe nog op plase gebly het, gaan inloer. Op 'n Vrydagmiddag het ek saam met Howard die beeste gaan haal en kraal toe gejaag of oor 'n naweek het ek by Jaco gaan kuier en ook so tussen bees of skaap gaan stap. Vandag bly albei van hulle in dorpshuise.

My broer bly op 'n plot. 'n Plot is seker beter as 'n dorpshuis omdat daar darem diere op die plot is: perde, hoenders, honde. Maar 'n plot is nie 'n plaas nie en ek verlang na die plaas. Groot oop stroke veld. Doringbome. Reuse bloekoms. Klipperste klip. Rooi grond. Suid-Afrikaanse blou hemele. Kiewiete wat raas as jy verby stap.

Ek sit in my kantoor in Korea en merk vraestelle. 'n Kantoor is beslis nie 'n plaas nie. En Korea se plase is nie soos Suid-Afrika se plase nie.

No comments:

Post a Comment