'n Demokrasie is 'n hoogskosbare fragiel affêre

(Source)
In 'n Demokrasie regeer die mense -- hulle word nie regeer nie. Dit is die plig van die goewerment om die wil van die mense uit te voer. Met ander woorde, die mense is baas en die goewerment is klaas. Indien die mense ontevrede is met hoe die goewerment sy plig nakom, dan kan ons hulle via 'n verkiesing vervang met verteenwoordigers wat ons wil meer getrou sal uitvoer. Die mense is dis in beheer en om hulle taak ordentelik te doen moet hulle vrye toegang hê tot staatsinligting. Sonder sulke vrye toegang is dit nie 'n demokrasie nie, maar 'n diktatorskap waar die goewerment baas is en die mense klaas is.

Die "Wet om Beskerming van Inligting" wat deur Suid-Afrika se goewerment voorgestel is, is drakonies van aard. Dit is daarop uit om inligting van die mense te weerhou. Sonder vrye inligting kan die mense nie ordentelike landsbesluite neem nie en is dan nie instaat om in beheer te wees nie. Eenvoudig gestel, hierdie wet verander die land vanaf 'n demokrasie in een-of-ander vorm van diktatorskap. Dit mag dalk nou nie onmiddelik Noord-Korea word nie, maar dit lê die fondasie waarop 'n Noord-Korea of 'n Zimbabwe of 'n Ivoorkus maklik gebou kan word. Intussen raak dit 'n piesangrepubliek.

Daarom is ek teen die voorgestelde "Wet om Beskerming van Inligting." Hoe meer geheime 'n staat het, hoe minder ware vryheid bestaan daar en hoe skraler is die kans om 'n werkende demokratiese stelsel. Soos Thomas Jefferson tereg gesê het: "Information is the currency of democracy." Sonder toegang tot inligting kan 'n demokrasie nie bestaan nie.

Raak betrokke in hierdie stryd. Dit handel oor groter dinge as bloot joernaliste en fluitjieblasers. Dit raak die kern van hoe ons land regeer word -- is die mense baas of is die goewerment baas? 'n Demokrasie of 'n diktatorskap? In watter tipe land wil jy bly?

Een manier om betrokke te raak is deur die "Right to Know Campaign"-petisie te teken. Neem deel aan protesoptogte. (Elke persoon behoort ten minste een keer in sy of haar lewe aan 'n protesoptog deel te neem.) Skryf briewe en vertel mense. 'n Demokrasie is 'n hoogskosbare fragiel affêre. 'n Mens moet dit daarvoor veg en dit pamperlang.

Nataniël

Soveel mense weet nog nie watse briljante kunstenaar Nataniël is nie. Met die ou legendes soos Tolla van der Merwe en Jan Spies reeds lankal ondergronds, is Nataniël seker ons land se mees humoristiese storieverteller. Maar om Nataniël met Van der Merwe en Spies te vergelyk is soos om trifle en chocolate mousse met mekaar te vergelyk. Albei is heerlike poedings, maar jy sit nie albei op dieselfde nageregtafel nie. 'n Trifle is geskik, sommer vir enige partytjie. Jy kan trifle eet by die kerkbazaar, 'n kinderverjaarsdagpartytjie, na die Bulls gewen (of verloor) het, by die skoolkermis, op 'n Sondagmiddag. Chocolate mousse is bietjie anders, is dit nie? Daar is iets aan 'n goeie chocolate mousse wat nie heeltemal pas in skoolsale, langs die braaier, of by 'n (geheiligde) vlooimark nie. 'n Ordentelike chocolate mousse is nie 'n alledaagse nagereg nie. Dis nie vir kinders met snotneusies en vuilbekkies en -kloutjies nie. Dis 'n grootmenspoeding. Jy moet bietjie lewenservaring hê vir chocolate mousse en jou tong moet kan onderskei tussen goedkooplekker en kwaliteitlekker. Nataniël is soos chocolate mousse. As jy nog nooit 'n Nataniël storie gehoor het nie, luister na een van sy vertellinge hier.

Maar hy is nie net 'n storieverteller nie. Dalk vertel ek meer oor sy ander talente op 'n ander geleentheid. Intussen, hier is sy webbladsy: www.nataniel.co.za